Die Verskil Tussen Geregistreerde Aangetekende Meatmaster-stoetteling En Kommersiële Meatmaster-teling

Die vraag wat beantwoord moet word, is waarom enige teler ramme by ʼn ander teler moet koop net omdat daardie teler sy ramme “stoetramme” noem, maar niks anders doen om sy skape te verbeter as wat al die ander kommersiële telers in elk geval doen nie. Gewoonlik is die enigste verskil beter voeding, bestuur en verkoopspraatjies. Onthou dat die fenotipe van ʼn skaap (hoe hy lyk) deur sy omgewing (voeding en bestuur) en sy genetika bepaal word. Die skrikwekkende ding is dat 78% van wat jy sien deur die omgewing bepaal word en slegs 22% deur genetika. Anders gestel, 78% van wat jy in ʼn ram sien, bly agter op die verkoper se plaas en jy neem net 22% van wat jy sien huis toe om jou skape mee te verbeter. Daarom moet jy baie seker maak dat daardie 22% jou skape kan verbeter; anders kon jy net sowel jou eie mooiste ramme gebruik het.

Figuur 1: Fenotipe = Omgewing + Genetika

As die twee ramme in figuur 1 vergelyk word, sal die meeste mense sê die onderste ram is die beste omdat sy bouvorm beter is. Die feit is egter dat dit dieselfde ram is; die enigste verskil is dat hy twee maande of langer gevoer is. Geneties is hulle identies, maar as hulle twee verskillende ramme met dieselfde genetiese waarde op ʼn veiling was, sou die een waarskynlik nie goedgekeur word nie of vir aansienlik minder verkoop word. Dit gebeur gereeld met my ramme, en ek is seker met joune ook, wanneer hulle later as ander ramme ingebring word om vir verkoop voor te berei en soms glad nie gevoer is nie. Die ram is dalk geneties die beste, maar lyk nie so nie. Dit is die rede waarom ons almal ons veilingsdiere voer, veral ramme. Hou in gedagte dat 78% van wat jy sien deur die omgewing bepaal word en slegs 22% deur genetika. Tog het baie min telers die kennis of die inligting beskikbaar om te bepaal watter skape geneties die beste is.

Die verskil tussen aangetekende stoetteling en kommersiële teling is dus dat ’n stoetteler wat data aanteken alles in sy vermoë moet doen en alle beskikbare metodes en hulpmiddels moet gebruik om sy skape geneties te verbeter. Dit word dikwels gedoen deur beter voer, lekke en dosering van hulle te weerhou sodat net die beste genetika instaat is om gereeld te lam, hul lammers goed uit te groei en die swakkeres wat dit nie reg kry uit te skot.

Aan die ander kant kan die kommersiële teler daarop fokus om sy skape so goed as moontlik te bestuur en voer deur sy optimale vlakke te bepaal om hom van die maksimum wins op sy spesifieke boerdery-eenheid te verseker. Hy sal daarby baat om ramme te koop van ʼn geregistreerde stoetteler wat uit sy pad gaan om sy skape geneties te verbeter om die genetiese verbetering van sy kopers se ooie te verseker.

Kom ons kyk nou wat die geregistreerde stoetteler moet doen om genetiese verbetering te waarborg.

  • Eerstens moet hy elke skaap identifiseer en alles wat hy van hulle moet weet, aanteken om hulle geneties te verbeter.
  • Tweedens moet hy dapper genoeg wees om minder as sy kommersiële eweknieë te voer en te doseer. Hy moet dapper genoeg wees om ten minste 20% van sy kudde toe te laat om ’n knou te kry as gevolg van parasiete of swak kondisie voordat hy dit oorweeg om te doseer, te voer of lekke te verskaf. Dan moet hy ontslae raak van daardie 20% om nie daardie swak genetika in sy kudde te vermeerder nie. Onthou, die dier wat die beste vaar in swak toestande sal in die meeste gevalle ook die beste vaar in goeie toestande, maar nie andersom nie.

Figuur 2 verskaf die netto aanteeltempo uiteengesit as beraamde teelwaardes. Niemand kan daarteen stry dat dit is hoe ʼn skaap in ʼn standaardomgewing vir ’n teler geld maak nie. Aan die linkerkant word lammers gemeet vir aantal lammers (vrugbaarheid) deur teelwaardes vir OEL (ouderdom eerste lam) en ILP (tussenlamperiode) en vir meerlinggeboortes volgens getal lammers gespeen. Dit help egter nie om baie lammers te hê as hulle nie oorleef en goed groei nie. Daarom meet ons aan die regterkant die gehalte van haar lammers deur metings vir moedereienskappe met teelwaarde TWW (totale speengewig). Dit bepaal haar lammers se vermoë om te oorleef en die ooi se rol in die grootmaak proses van die lam. Groei word gemeet deur teelwaardes vir speen maternal (melk produksie), speen direk en na-speen direk. Dit is belangrik om die balans tussen die twee (aantal lammers en gehalte lammers) reg te kry aangesien hulle altyd in stryd is met mekaar maar Geregistreerde stoettelers wat hierdie faktore regkry, sal beslis beter genetika aan hul kopers kan verkoop.

Figuur 2: Netto aanteeltempo uiteengesit as beraamde teelwaardes

Kom ons kyk nou na wat aangeteken moet word en waarom (sien figuur 3).

  • By geboorte moet elke lam aangeteken word met ʼn ID-nommer, sy geboortedatum, sy geslag en sy vader en moeder se ID-nommer.

Rede: Dit word gedoen om ʼn vergelykingsgroep van dieselfde ouderdom te hê om die lammers se gewig tydens grootword akkuraat te vergelyk en ʼn rekord op te bou van alle ooie met betrekking tot vrugbaarheid en die fenotipe van alle ooie en ramme se nageslag. Dit word ook gedoen om stambome op te bou om inteling in die toekoms te voorkom. Inteling is die grootste enkele faktor wat ly tot die verlies van lammers vanaf geboorte tot speen. Ook vrugbaarheid word baie negatief deur inteling beïnvloed.

  • Weeg alle lammers by geboorte en op 42 dae, 100 dae en 270 dae. Vir Meatmasters is die 100- en 270-dae-gewig die belangrikste; die geboorte- en 42-dae-gewig is opsioneel.

Rede: Hierdie gewigte word gebruik om die groei van lammers tot speen en na-speen, asook die melk- en grootmaakvermoë van hul moeders te bereken.

  • Op ongeveer 12 maande moet alle lammers vir bouvorm en Meatmaster-tipe beoordeel word op ʼn skaal van 1 (swak) tot 9 (uitstekend). Die beskikbare kodes word ook gebruik om al die foute en goeie eienskappe van elke dier te spesifiseer. Die kleur kan ook aangeteken word volgens al die beskikbare kodes indien nodig. Foto’s van die belangrike diere (soos die ramme wat jy gebruik en die vaar se moeder) kan geneem en gestoor word.

Rede: Jy het dan ʼn rekord en inligting van al die diere in die hele stamboom van ʼn ram wat jy dalk wil gebruik. Jy kan dus dadelik die goeie of swak eienskappe in al die generasies sien om jou te help om ʼn beter keuse te maak vir die vaar om te gebruik. Met die druk van ʼn knoppie het jy al die inligting en is dit asof die skaap lewendig geword het en reg voor jou staan.

Figuur 3: Inligting wat aangeteken word en die rede daarvoor

Op die linkerskerm van figuur 3 kan jy skerms oopmaak vir algemene inligting, asook inligting van geboorte en paring. In die middel het jy ʼn verdere keuse van sewe skerms en aan die regterkant ʼn keuse van vyf skerms. Op elke skerm sal alle tersaaklike data wees wat jy aangeteken het. Op die onderste skerm kan jy een verslag sien of soveel as wat jy wil, wat tesame al die inligting wat oor die nageslag van ʼn ooi of ram beskikbaar is, gee. Op die onderste lyn kan jy sien die ram het 182 lammers gehad en wat die gemiddelde van al die lammers vir elke eienskap is. Jy kan ook deur al die lammers gaan en die inligting van elkeen sien met betrekking tot persoonlike inligting, BLUP-waardes en prestasietoetsdata tot waar die lam verkoop is, aan wie en teen watter prys. Dit is voor die hand liggend dat jy met al hierdie fenotipe- en wetenskaplike data tot jou beskikking beter besluite sal kan neem vir definitiewe verbetering.

  • Die kommersiële teler moet nooit as enigsins minderwaardig teenoor die geregistreerde stoetteler beskou word nie. Om die waarheid te sê, oor die lang termyn is baie kommersiële ondernemings meer winsgewend as stoettelers. Ek sou skat dat meer as 50% van die sogenaamde stoettelers beter sal vaar as hulle eerder op ʼn goeie kommersiële eenheid sou konsentreer.

Rede: Jy kan baie meer ooie as ramme aanhou. ʼn Baie hoë persentasie ooie kwalifiseer as plaasvervangers of is goed genoeg om te verkoop, terwyl ʼn baie lae persentasie ramme ooit as veilingsramme kwalifiseer. Ramme is baie moeiliker om groot te maak en kos ook baie meer om groot te maak as ooie. Die registrasie en aantekening verg baie tyd en toewyding en is ook duurder as om ʼn kommersiële kudde te bestuur.

Met die groot aanvraag na ooie sal Meatmaster-telers daarby baat om baie goed na te dink voordat hulle besluit of hulle geregistreerde stoettelers of kommersiële telers wil wees. As ʼn kommersiële teler kan jy steeds ʼn lid van die Meatmaster-genootskap wees en al die voordele van lidmaatskap geniet, soos om onder die beskerming van die Meatmaster-genootskap op veilings te verkoop, van ons inspekteurs gebruik te maak en in alle advertensies te deel.

Gevolgtrekking

Die kommersiële bedryf en die geregistreerde stoetbedryf is van ewe groot belang vir die Meatmaster-ras en is van mekaar afhanklik vir langtermynsukses. Geregistreerde stoettelers moet in die minderheid wees, maar aan die bopunt van die piramide, met groter getalle kommersiële telers wat die grootste deel van die piramide uitmaak.

Genetika sal nooit ʼn volmaakte wetenskap wees nie, maar hoe meer geregistreerde stoettelers doen om die waardes van hul diere akkuraat aan te teken en al die beskikbare hulpmiddels te gebruik om vir geneties meer winsgewende skape te selekteer wat aan die kommersiële bedryf beskikbaar gestel kan word, hoe beter en meer winsgewend sal die Meatmaster-ras word. Garry Player het eenkeer gesê hoe harder jy oefen, hoe gelukkiger word jy. Dit is dieselfde met genetika – hoewel dit nie ʼn volmaakte wetenskap is nie, hoe meer inligting jy het, hoe gelukkiger sal jy word.

Dit is altyd goed om te onthou dat jy jou kudde verbeter deur daarop te konsentreer om die 20+% diere wat die minste winsgewend is, akkuraat te identifiseer en van hulle ontslae te raak, eerder as om die bestes nog beter te probeer maak.

Ek is vas daarvan oortuig dat as die Meatmaster-genootskap en ‑telers ywerig daarna streef en daarin slaag om diere te teel soos hierbo bespreek en dit op ʼn volhoubare wyse doen, die Meatmaster-ras die grootste ras in Suid-Afrika sal word, bloot omdat dit die winsgewendste ras is om in die meeste streke mee te boer.

ONS SPAN TOEGEWYDE GEREGISTREERDE EN KOMMERSIËLE MEATMASTER-TELERS KAN DIT LAAT GEBEUR.

This site uses cookies to offer you a better browsing experience. By browsing this website, you agree to our use of cookies.