Genomika is in 2021 vir die eerste Kleinvee-ras in Suid-Afrika uitgerol. Dit het die genotipering van alle rasse vir baie akkurate ouerskap-verifiëring deur middel van SNP-merkers, asook toetsing van verskeie enkel-geen eienskappe van alle Kleinvee-rasse ‘n werklikheid gemaak.
Vir insluiting van genomiese inligting in die beraming van genomies verrykte teelwaardes (GEBVs), moet daar egter eers ‘n verteenwoordigende aantal diere van ‘n ras met hoë impak en dus diere met baie akkurate teelwaardes, gegenotipeer word. Hierdie diere vorm die Verwysingspopulasie van die ras waarmee die genetiese kode geïnterpreteer word en is noodsaaklik vir die implementering van Genomiese Seleksie vir die betrokke ras. Dit word dus sterk aanbeveel dat biologiese materiaal van hoë impak-diere versamel en bewaar moet word met die oog op ‘n sterk verteenwoordigende Verwysingspopulasie vir toekomstige toepassing van Genomiese Seleksie in die ras.
Hoekom is deelname aan Genomiese Seleksie belangrik?
Insluiting van genomiese inligting in ‘n ras se Genetiese Ontleding hou die volgende voordele in:
- Dit dien as bewys van die identiteit van ‘n dier (naspeurbaarheid).
- Akkurate ouerskap- en nageslagsverifikasie met behulp meer as 20 000 merkers, ook waar naby verwante veelvuldige vaders gebruik is, mits die ouers ook gegenotipeer is.
- Toets vir draers van verskeie enkel-geen merkers van letale, semi-letale, gewenste en ongewenste eienskappe.
- Meer akkurate seleksie van jong ramme en ooie. Dit is veral voordelig vir eienskappe wat eers laat in ‘n dier se lewe gemeet word, net in een geslag gemeet word of net op dogters gemeet kan word, soos byvoorbeeld melk, vrugbaarheid en langslewendheid.
- Verbeter genetiese koppeling tussen kuddes, veral vir kuddes met min koppeling of baie onbekende ouerskappe.
- Genomiese verwantskappe tussen gegenotipeerde diere kan presies vasgestel word.
- Opbou van ‘n genomiese databasis vir die ras wat kosbare, ras-spesifieke genomiese navorsing in die toekoms tot gevolg sal hê. Dit kan dus as ‘n belegging in die kudde en populasie beskou word.
- Genotipering lei tot waarde-toevoeging, omdat baie meer en akkurater inligting oor die dier bekend word.
Watter diere moet gegenotipeer word?
- Diere wat se ouerskappe geverifieer moet word, asook vir identifisering van onbekende ouers.
- Diere wat reeds impak gemaak het op jou kudde : Alle vaders wat gebruik is. Dit sal verseker dat toekomstige jong diere wat gegenotipeer gaan word, genomies gekoppel word aan diere met hoë akkurate teelwaardes en die koppeling van die kudde binne die ras verbeter.
- Diere wat potensieel baie nageslag kan hê.
- Jong diere : Verseker meer akkurate EBVs, seleksie sal dus meer doeltreffend wees met gevolglike vinniger genetiese vordering.
- Nuwe ramme wat oorweeg word om in die kudde te gebruik.
Hoe moet die biologiese monster geneem word?
Omdat te min DNA vanaf Kleinvee se haarwortels verkry word, aanvaar laboratoriums slegs weefsel-, semen- en bloedmonsters vir genotipering. Sekere laboratoriums aanvaar stertwortels van bokke, maar vir skaap-rasse is dit ‘n probleem.
Na samesprekings met die laboratoriums word aanbeveel dat een van die volgende metodes gebruik word vir monsterneming:
- Bloedkaartjies kan gratis verkry word by die laboratorium of SA Stamboek waarop ‘n druppel bloed geplaas kan word. Bloedkaartjies is van spesiale papier gemaak vir die neem van biologiese monsters.
- ‘n Oorknipsel van die dier kan geneem word wat in ‘n buisie met preserveermiddel bewaar word. Die Allflex toestel kan hiervoor gebruik word met die gepreserveerde buisies wat daarmee saamgaan. Andersins kan die RFID-toestel, waarmee oorplaatjies ingesit word, tesame met hulle gepreserveerde buisies gebruik word. Die Allflex toestel kos R1 100, wat ‘n eenmalige bedrag is, met R24/buisie/dier. Meer inligting oor die Allflex toestel is hier beskikbaar : https://www.allflexsa.com/products/dna-sampling/tissue-sampling-tag/
- Semenstrooitjies van ramme kan in papier koeverte gestuur word.
- Bloedmonsters kan in die glasbuisies met die pers proppe, verkoel by 4˚C, gestuur word. Hierdie metode kan Stamboek nie hanteer nie en moet direk met die laboratorium gereel word.
Biologiese monsters moet met groot omsigtigheid geneem en hanteer word om kruis-kontaminasie te verhoed.
Waarheen moet die biologiese monsters gestuur word?
Biologiese monsters vir genotipering moet na die volgende adres gestuur word:
Kleinvee Genomiese Toets
Henry Straat 118
Westdene
BLOEMFONTEIN
9301
Kontak Persoon: Elsa van den Bergh
Indien die monster vir bewaring gestuur word, moet dit baie duidelik so aangedui en na die volgende adres gestuur word:
Kleinvee Biobank Bewaring
Henry Straat 118
Westdene
BLOEMFONTEIN
9301
Kontak Persoon: Elsa van den Bergh
Die SA registrasie nommer, ID en geslag van die dier, sowel as die teler se inligting moet saam met die monster gestuur word.
Wat is die kostes verbonde aan deelname?
Vir bewaring van die monster in SA Stamboek se Biobank, word ‘n eenmalige bedrag van R30/monster (BTW uitgesluit) gehef.
Die koste vir genotipering en deelname aan Logix Genomiese Seleksie, is R730/dier (BTW uitgesluit).
Let egter op dat vir semen en bloedmonsters die laboratorium ‘n addisionele fooi van R95/monster hef.
Hoe lank sal dit vat vir genomiese inligting om vrygestel te word?
Dit neem ongeveer 6 weke vandat die monsters by Stamboek ontvang is, tot die genomiese inligting beskikbaar gestel word aan die teler.