Auction Rules and Regulations

Reëls en Regulasies vir Veilings onder die beskerming van die Meatmaster Telers genootskap

Inhoudsopgawe:

  1. Defenisies
  2. Tipe Veilings onder beskerming van die Genootskap
  3. Beskrywing van veilings onder beskerming van die Genootskap:
  4. Veilings nie onder beskerming van die genootskap.
  5. Algemene Veilings reëls
  6. Keurders verantwoordelikheid met veilings:
  7. Aansoek om veiling onder beskerming van genootskap te hou

1. Defenisies:

Geregistreerde Meatmasters beteken: ‘n Meatmaster wat met ‘n kudde kenmerk, ‘n Jaartal,’n volgnommer en ‘n geboorte datum aangeteken word en goedgekeur word deur SA Stamboek. Hierdie diere moet nogsteeds die  keuring slaag om op veilings onder die beskerming van die Genootskap aangebied te kan word.

Goedgekeurde Meatmasters beteken: ‘n Meatmaster wat met oor nommer geidentifiseer word en goedgekeur word deur ‘n keurder van die genootskap.

Kommersiële Meatmasters beteken: Meatmasters wat nie keuring kan slaag vir registrasie doeleindes nie of nie geïdentifiseer kan word met Jaartal en volgnommer nie. Hierdie diere word nie onder beskerming van die genootskap verkoop nie.

Keuring: Word uitgevoer op veilings en/of op die plaas deur keurders van die genootskap om seker te maak dat betrokke diere aan al die minimum vereistes van die Rasstandaarde voldoen. Keuring op ‘n veiling kan verskil van keuring op die plaas omdat die kwaliteit van diere wat op ‘n veiling aangebied kan word van ‘n hoër standaard kan wees as die minimum Rasstandaarde as die verkopers van die betroke veiling dit so versoek.

Onafhankilke Keurder: ‘n Onafhanklike Keurder is ‘n Keurder wat geen affiliasie met die betrokke Veiling of Diere het nie.

“Onder Beskerming”: Die term “onder die beskerming van die Meatmaster Skaaptelersgenootskap van SA” beteken dat die genootskap die egtheid van die teel- en prestasiegegewens van elke dier, soos in die amptelike katalogus verskyn, gekotroleer het en dat ‘n keurder van die genootskap, voor die veiling, elke dier geïdentifiseer en visueel geïnspekteer het vir die minimum ras eienskappe en veilingswaardigheid. Dit beteken verder dat die organiseerders van die betroke veiling een amptelike Meatmaster keurder wat die Genootskap verteenwoordig moet aanwys om binne die week voor die veiling die veilingsdiere ten opsigte van die ras standaard en veilingswaardigheid te inspekteer. Die genootskap kan egter nie verantwoordelikdeid aanvaar die verkeerde skaap opgeveil is of vir enige verborge gebreke, siektestoestand, vrugbaarheid en/of dragtigheid-status van enige van die skape wat aan gebied word nie

“Veilingswaardigheid”: Veilingswaardigheid sal beteken dat diere wat geïnspekteer word nie te maer of oorvet is nie en dat die diere se sigbare gesondheid nie onder verdenking is nie. Dit beteken ook dat daar geen sigbare teken van besmeting van luise, brandsiek, ernstige wurm besmeting, omlope of koksidiose teenwoordig is nie. Geneesde en harde absesse word huidiglik aanvaer, onooglike, sagte absesse en absesse wat nog dreineer kwalifiseer nie.

2. Tipe Veilings onder beskerming van die genootskap:

Nasionale Veilings: Hierdie veilings word beheer en gereël deur die genootskap op ‘n sentrale plek in die land (Bloemfontein) om ‘n veilings geleentheid te skep vir ons lede. Reëls en regulasies soos onder andere ouderdom van skaap, aanbod, en standaard van screening word deur die genootskap bepaal.  Meer spesifieke reëls kan van toepasing wees op ‘n Nasionale Meatmaster veiling wat beskikbaar sal wees saam die inskrywings dokomente.

Groep veilings: Hierdie veilings word gereël deur ‘n groepering van lede wat ‘n gesamentlike veiling hou. Keuring word steeds deur keurders van die genootskap uitgevoer.  Tenminste een keurder moet verantwoordelik wees vir die Keuring van diere en die keuringsverslag  wat aan die genootskap gestuur moet word. As hierdie keurder diere op die veiling het, moet daar ‘n tweede keurder wees wat die keuring van daardie diere doen.

Produksie veilings: Word gereël deur die betrokke teler, maar keuring word steeds deur ‘n onafhanklike keurder van die genootskap uitgevoer.  ‘n keuringsverslag moet deur die keurder aan die genootskap gestuur word.

Veld Ram veilings: Word gereël deur die veld ram klubs en keuring voor die veiling moet ook deur ‘n onafhanklike keurder gedoen word en ‘n keurdersverslag moet aan die genootskap gestuur word.

Streeks veilings :  Hierdie veilings word gereël deur die lede van daardie betroke streek en gasverkopers uit ander streke kan genooi word deur veilings komitee. Maar keuring moet steeds deur keurders van die genootskap uitgevoer word.  Tenminste een keurder moet verantwoordelik wees vir die keuring en die keurdersverslag wat aan die genootskap gestuur moet word.

Klub veilings : Hierdie veilings word in streeks gebonde areas gehou en dieselfde reels soos in 1.2.2 Groep veiling is van toepassing.

3. Beskrywing van veilings onder beskerming van die Genootskap:

Beskerming deur die Meatmaster telers genootskap impliseer hoofsaaklik keuring deur gekwalifiseerde keurders.

Die genootskap kan behulpsaam wees met ‘n dispuut maar die onus bly op die koper en verkoper.

Die genootskap sal toesien dat alle veilings reëls nagekom word.

Die genootskap sal graag wil sien dat alle lede hulle veilings onder beskerming van die genootskap aanbied.  Hierdeur kan ons as genootskap die beste doen om ons ras te beskerm en aan nuwe toetreeders tot die Meatmaster ras help om beter te verstaan hoe die ras funksioneer en oor die tipe Meatmaster wat aangekoop kan word.

Die genootskap kan nie instaan vir die integriteit van sy lede nie, maar kan slegs op tree as veilings reëls oortree word. Kopers moet hulle eie huiswerk doen omtrent telers en word dit baie sterk aanbeveel dat kursusse bygewoon word nog voordat skape aangekoop word.  Van die keurders kan ook gevra word om behulpsaam te wees tydens veilings.

4. Veilings NIE onder die Beskerming van die Genootskap.

Hierdie sal slegs groep veilings, produksie veilings of uit die hand verkope wees. Met al die veilings is daar geen advertensie van genootskap kant af, of word daar enige verantwoordelikheid vir die verkoop van die diere deur die genootskap gedra nie.  Hierdie veilings en transaksies is tussen koper en verkoper en alle dispute moet tussen hulle opgelos word.

Die genootskap logo mag ook nie op telers advertensies verskyn nie.

Diere wat op so veiling aangekoop is, wat nie aangeteken is nie kan nie by SA Stamboek opgegee word as goedgekeurde Meatmasters nie. As die koper die diere wel by SA Stamboek wil aanteken sal ‘n Keurder van die genootskap eers daardie diere moet gaan keur.

5. Algemene veilings reëls:

Daar moet ‘n amptelike keurder aangestel word by alle veilings onder beskerming van die genootskap. Enige veiling waar daar nie amptelike keuring van die veilings diere deur ‘n Meatmaster Keurder plaasgevind het nie, word beskou as nie onder die beskerming van die Meatmaster skaap telers genootskap nie

Hierdie keurder kan genomineer word deur die betroke organiseerders van die veiling en moet bevestig word deur die aangestelde raadslid verantwoordelik vir “Veilings” of die raadslid verantwoordelik vir “Keuring/Keurders”. Aangestelde keurder vir die betrokke veiling moet dadelik die kantoor en/of betrokke raadslid kennis gee of hy die aanstelling aanvaar.

Dit is die betrokke veiling se organiseerders se verantwoordelikheid om te sorg dat alle reëlings verband met keuring getref word met die keurder en dit deur gegee word aan die kantoor en/of betroke raadslid.

Alle Meatmaster veilings, wat die Meatmaster Logo en/of Naam gebruik moet 0.5% van die veiling se opbrengs aan die Meatmaster Genootskap betaal.

Reis onkoste en ‘n dag toelae moet aan ‘n keurder betaal word uit die 0.5 % kommissie wat die genootskap ontvang. Dit is die organiseerders van die betrokke veiling se verantwoordelikheid om te verseker dat Hierdie keurder sy vergoeding deur die genootskap ontvang.

‘n Dispuut oor vrugbaarheid by ramme moet binne 30 dae na datum van veiling geopper word en ‘n sertifikaat van ‘n veearts moet voorsien word. Na die tydperk word dit beskou as onredelik. Verkopers word verplig om die onderneming te eerbiedig binne die tydperk.

Geen ram mag sonder ‘n Brucela-Ovis Negatiewe sertifikaat wat deur ‘n geakkrediteerde laboratorium by enige veiling onder die beskerming, by die betrokke veiling krale afgelaai word nie. Dit is die verantwoordelikheid van die organiseerders van die betrokke veiling om te sorg dat dit na gekom word. Dit kan deur die betrokke Keurder gekontroleer word.

Sou ‘n aandeel in ‘n ram verkoop word of aan meer as een teler verkoop word moet al die aandeel houers aan SA Stamboek deur gegee word.

Sou ‘n ontvanger ooi op veiling verskyn, moet embrio vaar en moer van die lam in katalogus verskyn en aan SA Stamboek voorsien word.

Diere wat op ‘n veiling aangekoop is, wat nie reeds aangetekende diere is nie kan nie by SA Stamboek opgegee word as goedgekeurde Meatmasters nie. As die koper die diere wel by SA Stamboek wil aanteken sal ‘n Keurder van die genootskap eers daardie diere moet gaan keur.

Alle diere wat op ‘n veiling afgekeur is moet direk na die Keuring afgehandel is uit die veilings lokaal verwyder word.

6. Keurders verantwoordelikheid met veilings:

Om deeglike keuring van al die diere op die betroke veiling te doen en te verseker dat hul voldoen aan die minimum ras standaarde en veilingswaardigheid, of indien so versoek die minimum standaard te verhoog.

Dit is die keurder se verantwoordelikheid om dit duidelik te stel aan die veilings huis of afslaer dat die veiling amptelik as afgehandel verklaar moet word voordat diere wat nie onder beskerming aangebied word verkoop mag word.

Genomineerde keurder kan enige ander keurders ook betrek om hom behulpsaam te wees. Slegs kostes van een Keurder sal deur Genootskap gedek word.

7. Aansoek om veiling onder beskerming van genootskap te hou:

Om ‘n veiling onder die beskerming van die Meatmaster skaap telers genootskap te hou moet daar skriftelik aansoek gedoen word by die Meatmaster kantoor, of die verkoper of betrokke veilings organiseerders kan die raadslid verantwoordelik vir “Veilings” kontak oor die aansoek.

Verkopers moet ‘n skriftelike aansoek dokument by die kantoor kry, dit onderteken en terug stuur. Die dokument is ‘n bindende kontrak tussen die genootskap en die verkopers om te verseker dat alle reëls, regulasies en betalings na gekom sal word. Dit is ook om informasie oor die veiling by te kan voeg by die Kalender, die veiling behulpsaam te kan wees met bemarking en die amptelikheid van die veiling deur die genootskap te bevestig.

Aansoek om ‘n veiling onder die beskerming te hou moet minstens 3 maande voor die veiling ingedien word

Waneer aansoek gedoen word kan die Genootskap die organiseerders van die betrokke veiling behulpsaam wees met sinvolle beplaning en datums.